Die Langste Woorde in Afrika

Gelykheid trippetrappetrone soos
die ballerina op ‘n speeldoos:
voornemens pragtig, maar goedkoop
en sentimenteel -

eentonige klaagliedere is vir saamsing,
en wentel om die waarheid, vasgehaak
in een groef van kwaad en kleur,
en al wat ons ken

is die dryfveer maar weer opwen -
soos Haydn se “Sewe Laaste Woorde aan die Kruis” -
sewe woorde wat langer vat as sewe sekondes,
sewe jaar, sewe dekades, om gesê te word:

“ons is arm, help ons, doen iets …”
in handgebare, lyftaal en groot oë, nooit werklik
gehoor; die politici se gepeins op elke woord
langdurig uitgerek sodat die woorde dun,

deursigtig raak, en sonder ‘n verlossende afklowing
knak en vou die stemme in die middel en met ‘n laaste
gekinkelkonkel word die woorde ‘n ewigheid
van rondtollende beloftes en wanhoop.

© Sara P. Dias

Discussion Area - Leave a Comment